053 050 1114 info@vkn.co.za

Bou regulasies

VLUYTJESKRAAL NOORD BOERDERY EN ONTWIKKELING BEPERK,
 HIERNA ”DIE MAATSKAPPY” OF ”DIE DIREKSIE” GENOEM

 
BOUVOORSKRIFTE VIR VLUYTJESKRAAL LANDGOED:
 
1. INLEIDING
Die riglyne vervat in die dokument is die ontwerp en bouvoorskrifte van toepassing op ontwikkeling in Vluytjeskraal Landgoed. Die doel van die voorskrifte is om die omgewing se voorkoms te beskerm, beleggingswaarde aan die ontwikkelling toe te voeg, goeie buurmanskap te bevorder en om die impak op die klimaat en ekologie tot ’n minimum te beperk. Planne en bouwerk wat strydig is met die voorskrifte sal nie toegelaat word nie. Die maatskappy sal nie verantwoordelikheid aanvaar vir enige gebrekkige ontwerpe, swak vakmanskap of detailfoute nie.

1.1. Konsepverklaring:
 Die ontwikkeling vorm deel van Orania wat as Bewarea verklaar is. Die oogmerk van ontwikkeling langs die oewer van die Oranjerivier is om ruimte vir luukse behuising beskikbaar te stel sonder om die omgewing onnodig te skaad nie. ‘n Sensitiewe argitektuurstyl word voorgeskryf tov die impak op die omgewing en ekologiese stelsels.

2. BOUREGULASIES EN BEPERKINGS:
Alle bouwerk sal voldoen aan die Nasionale Bouregulasies.

2.1. Aanpassings op boubeperkings:
Die direksie behou die reg voor om klein veranderings en wysigings tot die ontwerpstandaarde en bouvoorskrifte, soos vervat in die dokument, van tyd tot tyd aan te bring indien dit nodig ge-ag word.

2.2. Prosedure vir die goedkeuring van bouplanne:
2.2.1. Die direksie sal gebruik maak van die dienste van ‘n Professionele Argitek, of ‘n Senior Argitekstegnoloog wat geregistreer is by die Suid Afrikaanse Raad vir die Argiteksprofessie (SACAP). Bewys van lidmaatskap sal ‘n voorvereiste wees voor dienste gebruik word.
2.2.2. Die ontwerp van enige nuwe bouwerk, aanbouings of veranderings aan bestaande bouwerk sal voldoen aan hierdie voorskrifte.

2.2.3. Alle ontwerpdokumentasie en bouplanne soos nasionaal vereis sal voorgelê word aan die direksie vir goedkeuring. Ingenieursertifikate sal voorgelê word vir die ontwerp van fondasies en waar die struktuur dit andersins vereis.
2.2.4. Alle aansoeke sal vergesel word met bouplangelde soos voorgeskryf deur die direksie.
2.2.5. Drie stelle bouplanne soos Nasionaal vereis sal ingedien word.
2.2.6. Goedkeuring of afkeuring van voorgelegde planne sal volgens die diskresie van die direksie en aangestelde Argitek wees.
2.2.7. Geen bouwerk sal ’n aanvang neem alvorens skriftelike goedkeuring verkry is nie.
2.2.8. Enige afwykings van goedgekeurde planne sal voorgelê word vir goedkeuring.
2.2.9. Voorskrifte tov tydperke vir voltooiing van bouwerk na goedkeuring sal 24 maande wees.

3. OMGEWINGSONTWERPBEPALINGS

3.1. Son
Sonskyn sal benut word tov noordoriëntasie met die meeste vensters noord geplaas en geen of die minimum vensters wes. Passiewe verhitting en verkoeling word aangemoedig. Die son sal benut word vir waterverhitting en inwoners word aangemoedig om fotovoltaŃ—ese selle te gebruik vir elektriese voorsiening. Sonwaterverwarming met of sonder elektriese bystand word vereis, met dien verstande dat gaswaterverwarming as alternatief toelaatbaar is.

3.2. Wind
Die heersende sterk winde is uit die weste, maar ook uit die noordweste oor die rivier. Belandskapping moet ingespan word om as windbreek te dien vir beskutte buiteleefareas waar behoorlike woonhuisbeplanning ontbreek. Die bou van mure om wind af te skerm word ontmoedig.

3.3. Reënval
Die reënvalseisoen is in die laatsomer, tussen Desember en April, maar reën kan regdeur die jaar voorkom. Die winter en eerste helfte van die somer is gewoonlik droog. Omrede dit eintlik ‘n semi-woestynarea is moet nuwe plante oorweeg word vir die geskiktheid vir die klimaat alvorens dit aangekoop en geplant word. Geen uitheemse plante mag aangeplant word nie, met die uitsondering van kosplante, soos vrugtebome en groente. Die oes van reënwater word aangemoedig en elke huishouding word verplig om ‘n waterreservoir (minimum 5000 liter word vereis) te voorsien waarin ge-oeste reënwater gestoor kan word. Die waterreservoir moet van ’n voorafgoedgekeurde kleur wees.

3.4. Topografie en mikroklimaat
Die oewererwe se terrein is plat met ’n oewerhelling na die rivier. Geen bouwerk sal onder die 50 jaar vloedlyn toegelaat word nie. Die eko-erwe is ekologies sensitief en weens die aard teen ‘n helling. Geen afplatting met grondskuifmasjienerie sal toegelaat word nie. Die vlakke van enige bouwerk sal die topografie volg. Geen bome met stamomtrek groter as 100mm sal verwyder word alvorens die direksie toestemming verleen het nie. Die inheemse bome en plantegroei sal beskerm word om die mikroklimaat wat gunstig vir inwoners is, te beskerm. Geen kikuyu aanplantings sal toegelaat word nie, oorweeg liefs LM-gras. Oortreding in die verband sal tot ‘n boete lei en gras sal onmiddellik verwyder moet word.

4. TERREINBEPERKINGS

4.1. Sonering
Die woonerwe is gesoneer vir enkelwoon gebruik. Naas die woonhuis mag een dogter- /oumawoonstel gebou word waarvan die grootte nie 75m² oorskry nie. Die direksie mag die oprigting van ‘n tweede woonhuis op groter erwe toelaat.

4.2. Dekking
Maksimum dekking van die oewererwe is 25% en 50% vir die kleindorpserwe. Dit sluit alle dakbedekte areas in.

4.3. Hoogtes
Nie meer as 2 verdiepings nie met ‘n maksimum hoogte van 8m nokhoogte bo natuurlike grondvlak, gemeet vanaf die gemiddelde hoogte van die area om die gebou.

4.4. Boulyne
Die boulyn aan die straatgrens is 6 meter en sygrense 3 meter vir riviererwe.
Die boulyn aan die straatgrens is 3 meter, sy- & agtergrense 2 meter vir kleindorperwe. Oorskryding van boulyne sal slegs oorweeg word indien plantegroei of topografie op woonerf dit noodsaak of vir voertuigafdakke.

4.5. Minimumgroottes
Woonhuise se minimum grootte sal groter wees as 70m², dit sal nie motorhuise, afdakke of stoepe insluit nie.

4.6. Grensmure:
In die geval van oewererwe sal werfmure nie ‘n area groter as 25% van die erfoppervlakte omsluit nie, waarvan geen grensmuur langer as 50% van die erflengte sal wees nie. Die werf sal aangrensend aan die woonhuis wees. Die beperking is om die natuurlike oewervoorkoms te behou. Geen grensmuur sal hoër as 1,8m wees nie. Geen elektriese- of lemmetjiesdraad sal tussen erwe toegelaat word nie. Geen voorafvervaardigde betonheinings of nagemaakte klipmure sal toegelaat word nie.
In die geval van eko-erwe is grensmure uiteraard nie ter sprake nie. Werfmure sal van natuurlike materiaal en kleur wees en die grootte van die omslote werf sal beperk wees volgens die diskressie van die direksie.

4.7. Plaveide areas:
Buiteplaveisel vir onthaalareas, werwe, looppaadjies en parkering sal nie 15% van die erfoppervlakte oorskry nie in die geval van oewererwe.


4.8. Swembaddens:
Swembaddens sal behoorlik omhein wees vir veiligheid met selfsluithekkies. Een swembad per erf word toegelaat met ‘n maksimum oppervlakte van 25m², welke oppervlakte met die nodige toestemming van die direksie oorskry kan word.

4.9. Braaiplekke:
Behoorlik brandbeveiligde braaivleisplekke sal slegs op erwe en piekniekterreine toegelaat word.

4.10. Keermure:
Geen keermure hoër as 1,2m sal toegelaat word nie. Dieselfde beperking as grensmure geld tov afwerking. Keermure sal verkieslik ‘n natuurlike afwerking hê soos “gabion”-keermure of getrapte betonblokke wat met plantegroei bedek kan word.

4.11. Parkering:
‘n Minimum van twee besoekersparkeerplekke binne die erf word vereis.

5. ARGITEKTONIESE ONTWERPVOORSKRIFTE:

5.1. Motorhuise en motorskuilings:
Geen skadunetskuilings of soortgelyke strukture sal toegelaat word nie.Geen staalskuurstruktuur-voorkoms motorhuise of ander strukture, beklee met staalplaat sal toegelaat word nie.

5.2. Bouvorm:
As gevolg van die grondstruktuur word ligter strukture, soos houthuise op oewererwe aanbeveel. Huisvorms en ontwerpstyle behorende aan ‘n sekere styl, soos Toskaans, Bali, of enige ander uitheemse“temapark” modeargitektuur moet vermy word. Oorweeg eerder Karootipe huise of  ‘n eenvoudiger klassieke voorkoms vir ontwikkeling op die kleindorperwe. Die direksie se beslissing oor ”vreemde” styl huise sal finaal wees.

5.3.  Werwe:
Wasgoedlyne en vullisbergareas sal nie sigbaar wees vanaf die straat nie en omsluit word met werfmure.

5.4. Onderhoud:
Materiale met lae onderhoud moet oorweeg word. Onderhoud op geboue sal deurgaans gedoen en op aanvaarbare standaard gehou word.

5.5. Elektrisiteit, elektriese en meganiese toebehore :
Energiebesparende beligting, verkieslik die LED-tipe sal geïnstalleer word. Satellietskottels en radiotorings sal diskreet geplaas word. Geen lugversorgers of enige ander derglike elektriese toebehoor sal sigbaar wees vanaf die straat nie. Die ontwerp moet toelaat vir nisse en skermmure wat  dit versteek. Sonpanele en sonwaterverwarmers sal op die gebou se dak geplaas wees en nie op losstaande staalstrukture nie.
Buitebeligting mag slegs aangebring word by buiteleefareas, parkeerareas, werwe en ontspanningsareas.  Een lig by ‘n ingangshek is toelaatbaar. Geen rybeligting langs erfgrense of langs inritte sal toegelaat word nie. Buitebeligting op eko-erwe moet beperk word en verkieslik afwaarts skyn. Ligbesoedeling sal tot ‘n minimum beperk word.

5.6 Alle dakbedekkings moet wit wees, bv wit ”chromadek” dakplate of wit geverfde dakteëls, behalwe in die geval van eko-erwe waar paslike dakbedekking in natuurlike kleure oorweeg sal word.

5.7 Onderskeid t.o.v. Eko-erwe (koppie):
Slegs natuurlike verfkleure, maw skakerings van klip- en sandkleure, nie wit en helder kleure nie. Huise moet visueel wegsmelt in die koppie. Geen elektrisiteit word voorsien nie en geen kragopwekkers sal toegelaat word nie. Geen rioolaansluiting word voorsien nie. Elke huis sal ’n onafhanklike goedgekeurde aanvaarbare rioolstelsel hê.

U samewerking en nakoming van die bouvoorskrifte word hoog op prys gestel.

Verdere Navrae:  Kontak  Harry Theron by harry@vkn.co.za

Besoekers 1,550